skip to Main Content
021 421 1354 info@rcyc.co.za
Explora In Die Burger

Explora in Die Burger

KAAPSTAD. – Die rekords kan spat in die volgende Kaap-na-Rio-wedvaart wat op 4 Januarie in Tafelbaai begin met -n wentyd van minder as tien dae in goeie weersomstandighede.

Sê het Dale Kushner, kommodoor van die organiserende Royal Cape-klub, voorspel. Altesaam 34 inskrywings is reeds ontvang nadat daar net 17 jagte in 2011 in die vorige wedvaart weggespring het.

Dit is veral die internasionale belangstelling wat seiljagkenners baie opgewonde maak.

Die wêreldbekende Italiaanse vaarder Giovanni Soldini gaan op sy Volvo-70-jag Maserati moeilik gestuit word in die afdeling vir enkelrompe. In baie sterk wind en ideale omstandighede sou hy binne sewe of agt dae Brasilië kon bereik.

Die Rio-wedvaart word tradisioneel in ligte windaf toestande aangepak. In sulke weer is bietjie geluk nodig as jy in minder as tien dae weer land wil sien aan die oorkant van die Suid-Atlantiese Oseaan.

Die Suid-Afrikaanse aanslag gaan gelei word deur Craig Sutherland op die jag Explora. Met FNB en SuperSport as borge het die span goeie ondersteuning.

Die Franse Finot-Conq-ontwerp is oorspronklik vir die Britse alleenvaarder Josh Hall gebou. Die jag is nou al ‘n bietjie verouderd en kan deur die kleiner en nuwer Australiese jag Scarlet Runner, met Robert Date as skipper, opgedreun word.

Die naam van die reuse- Franse drieromp Prince De Bretagne 2, met Arnaud Aubry as skipper, verskyn ook onder die inskrywings. Hy is ‘n spoedvraat van 80 voet en kan alle rekords voor hom wegveeg as hy by die wegspring opdaag.

Pierre Albertyn en sy seilspan van Bonnievale pak in hierdie uitgelese geselskap hul derde oortog op die dubbelromp Myrtle of Bonnievale na Suid-Amerika. Dit slag is dit vir die familie.

Die skipper se vrou, Sonja, en sy seun, PK, en suster, Anna de Wet, seil saam. Sonja se suster, Wilna King van Worcester, is ook deel van die familiespan.

“Dit kan die beste Suid-Atlantiese wedvaart die afgelope 15 jaar wees. Ons is baie opgewonde oor die wedvaart al kon ons nie ‘n groot hoofborg betrek nie,” het Kushner gesê.

Die Kaapse stadsraad ondersteun die wedvaart.

Please share this:
Back To Top